Quantcast
Channel: Verslanking » bloeddruk
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2

Hartsiektes

$
0
0

Die  heartfoundation het die artikel hier onder verskaf, wat ook in Beeld verskyn het.  Dis goeie raad (behalwe punt 4), ook vir slankes .   Trouens, dis juis dikwels mense wat nie vet is nie, wat skielik en onverwags hartsiekte kry.

So hoekom is punt 4 (hou jou gewig dop)  nie juis goeie raad nie?   Want as jy al die ander goed doen, en jy het gewig wat kan verloor, dan sal jy.  En as jy al die ander goed doen, maar jy verloor niks gewig nie, moet jy steeds aanhou met daardie goed,  want dis nodig vir jou gesondheid.  Net soos dit ook nodig is vir ‘n slanke persoon se gesondheid.   Boonop is dit nie waar dat vet mense noodwendig hoë bloeddruk het nie.  Talle mense in die vetaanvaarding beweging, sommiges buitengewoon vet, het nie hoë bloeddruk nie

Die ewige obsessie met vet hou ‘n gevaar in vir mense wat nie vet is nie, wat hulle dink hulle is OK.  Mens moet eerder na die fundamentele goed kyk:  kry jy oefening, eet jy gesond,  kry jy ‘n uitlaat vir jou spanning.  As jou bloedsuiker, bloeddruk, hartritme, polslag per minuut, cholestrolvlak, stresvlak en fiksheid goed is, dws die fundamentele goed, is jy net miskien OK!

Keer hartsiektes en beroertes só

Sondag was Wêreldhartdag en die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika het 10 wenke vir ’n gesonder hart.

Hartsiektes en beroertes is die grootste oorsake van dood ter wêreld en eis ongeveer 17,1 miljoen lewens elke jaar.

“Op Wêreld-hartdag doen ons ’n beroep op almal om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie hartgesondheid.

“Ons doen dit deur tien mak­like stappe wat mense kan doen uiteen te sit en deur mense aan te moedig om te begin deur minstens een te doen.

“Gesonde eetgewoontes, fisieke aktiwiteit en om nie te rook nie, word aanbeveel,” sê dr. Vash Mungal-Singh, uitvoerende hoof van die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika, in ’n verklaring wat verlede week uitgereik is.

’n Gesonde lewe

1.  Eet gesond: Eet minstens vyf porsies vrugte en groente elke dag en vermy versadigde vet. Pasop vir verwerkte kos, wat dikwels baie sout bevat.

2.  Raak aktief: Selfs ’n halfuur se oefening daagliks kan help om ’n hartaanval of beroerte te voorkom, en jy sal ook in jou werk daarby baat vind.

3.  Los die tabak: Jou gevaar vir hartvatsiektes sal binne ’n jaar gehalveer word as jy ophou rook en sal mettertyd na normaal terugkeer.

4.  Hou jou gewig dop: Gewigsverlies, veral saam met ’n ­laer soutinname, lei tot laer bloeddruk. Hoë bloeddruk is die grootste gevaarfaktor vir beroerte-aanvalle en dit is ook ’n groot faktor in verskeie hartsiektes.

5.  Ken die syfers: Besoek ’n gesondheidspraktisyn wat jou bloeddruk, cholesterol, glu­ko­se­vlak­ke, middellyf-tot-heup-ratio en liggaamsmassa-indeks kan meet. Sodra jy weet wat jou gevaarfaktore is, kan jy ’n plan maak om jou hartgesondheid te verbeter.

6.  Stadig met die drankies: Beperk die hoeveelheid alkohol wat jy inneem. Uitermatige alkoholinname kan jou bloeddruk laat styg en jou gewig laat toeneem.

In die werkplek

7.  Raak rookvry: Dring daarop aan dat rook in jou werkplek verbied word. Stel voor dat jou werkgewer ophou-rook-dienste aanbied aan diegene wat wil ophou.

8.  Oefen by die werk: Sluit fisieke aktiwiteit in jou werkskedule in – ry fiets werk toe indien moontlik, klim trappe eerder as om die hyser te gebruik, doen oefening of gaan stap gedurende jou middagetenstyd en moedig ander aan om dit ook te doen.

9.  Kies gesonde kos: Vra vir gesonde koskeuses by die werk se kantien of spoor nabygeleë kafees of restaurante op wat gesonde maaltye voorsit.

10.  Klop die spanning: Hoewel dit nie bewys is dat spanning ’n direkte gevaarfaktor vir hartsiektes en beroertes is nie, is dit verwant aan rook, oormatige alkoholgebruik en ongesonde eetgewoontes. Bring oor middagete tyd weg van jou werkplek deur en kry ’n bietjie vars lug. Neem gereelde onderbrekings deur die dag – probeer vir vyf minute twee keer per dag strek of oefen.

Verskaf deur die Hart-en-beroerte-stigting van SA; 0860 223 222 of http://www.heartfoundation.co.za.



Viewing all articles
Browse latest Browse all 2

Latest Images

Trending Articles